Buite onder ’n groot boom by die Magersfontein Memorial Golf Estate in die Noord-Kaap het Elizma en Charl ewige trou aan mekaar beloof. Die pragtige bruid droom al van kleins af oor dié dag. “Sedert ek kan onthou, wou ek iewers onder ’n boom trou, omring deur almal vir wie ek lief is,” sê Elizma oor haar en Charl se perfekte groot dag.
Toe die paartjie mekaar presies 3 jaar en 4 dae voor hul troudag ontmoet het, het nie een van hulle gedink dat hulle voor die kansel sou land nie. “Ná ’n langafstandverhouding van byna 2 jaar het Charl sy rugbytokse vir vellies verruil en my op ’n wintersmiddag in die lusernland op hul plaas gevra om te trou.”
Baie mense het haar aangeraai om ’n plan gereed te hê indien dit sou reën, maar Elizma was vasbeslote om haar sprokiestroue te laat realiseer. En sy was reg! “Ons was geseënd met die mooiste sonskyn-somersdag.”
Elizma se raad aan toekomstige bruide is om die spesiale oomblikke van jou troudag te koester en nie op dié groot dag te fokus op die klein details waaraan jy maande lank beplan het nie. “Ek sal nooit vergeet hoe ek onder die bome na Charl aangestap het en in sy oë gekyk het nie, of toe ek my pa vir die eerste keer sien huil toe hy my weggee nie.”
Elizma kon nie vir ’n meer perfekte dag wens nie. Sy en Charl het onder die sterre en tussen al hulle geliefdes die aand omgedans. “Ek het op daardie oomblik besef my droom was besig om waar te word.”