Verlief op die lang pad Kaap toe, verloof op ’n koppie in die Karoo, en getroud op ’n snikhete dag in die Overberg. Spontaan en ongekunsteld. Voorste aktrise Rolanda Marais en die bekroonde regisseur Jozua Malherbe sou dit nie anders wou hê nie. Hy sê sy sien die wêreld anders; deur haar hart. Sy sê sy wil oud word saam met hom; hom elke dag leer ken.
Dit gons oor Rolanda en Jozua Malherbe, SA se “nuwe glanspaartjie”, maar gesels jy met hulle, besef jy gou hulle is allermins ’n paartjie vir die kollig. Eerder onkonvensioneel, sonder gewone reëls en roetine, elk hul eie mens … tog in pas met mekaar.
Dié dat Rolanda net geskree het “wheeeee” en vir die gaste gewaai het toe sy die paadjie afstap na waar Jozua op haar gewag het. SARIE het kort ná hul wittebrood in Turkye met die twee kunstenaars gepraat oor hul troue in Februarie.
“Die oomblik was byna te groot … My trane het vlak gelê. Nick Cave se ‘Into My Arms’ het gespeel, en elke keer dat ek die liedjie voor die troue geluister het, het ek begin huil. Toe besluit ek nee, ek gaan nie al my grimering afhuil nie. Toe ek skree, was die ys gebreek en ons almal het ontspan,” lag sy en Jozua met die herleef van dié onthou-oomblik.
Dié staaltjie spreek boekdele van haar en Joz, soos sy hom noem, se verhouding – en van die atmosfeer by hul troue in die Overberg.
“Ons is albei ontspanne mense. Ons gun mekaar die ruimte om onsself te wees en ons is
lief vir ons vriende, familie en vir kuier. Die laaste ding wat ons wou hê, was ’n stywe, formele troue. Ons albei werk in ’n wêreld van pretensie en ons troue moes oor óns gaan nie oor die show nie,” sê Rolanda.
Die bruidspaar met hul strooimeisies en strooijonkers. Van links is Wolfgang Muller, Chan (agter Jozua weggesteek), Daniel, Rentia, Adam Bentel en Nadia.
FOTO: Shanna Jones
Die seremonie en onthaal was by Old Mac Daddy in die Elgin-vallei naby
Grabouw – ’n luukse plaas waar gaste in omskepte woonwaens met aweregse
dekor kan bly. Voor die seremonie het Jozua, sy strooijonkers en vriende in een van dié woonwaens sit en wag, enkelmout-whisky en Kubaanse sigare in die hand.
“Daar was niks stres voor die troue nie,” sê Jozua. “Ek en Rolanda is nie gepla as alles nie 100% volgens plan verloop nie. Ek het sommer so ’n paar weke voor die troue eers my pak laat maak! Die hele dag het gegaan oor ons nabye mense, ons almal se liefde vir mekaar. Toe ek uiteindelik voor die kansel in die tuin gaan staan om haar in te wag, was daar niks bekommernis nie – net ’n oorweldigende vreugde. Toe ek haar sien … sy het stunning gelyk! Die rok het perfek by haar gepas – elegant, pragtig, opreg sý.”
Rolanda se rok is deur die ontwerper Suzaan Heyns gemaak. “Ek kon dadelik sien Suzaan verstaan my goed. Ek het haar vertrou om iets te maak wat by my pas. Die rok was vir my só mooi dat ek nou nóg ’n partytjie wil hou vir die vriende wat nie daar kon wees nie sodat ek dit weer kan dra. Miskien sal ek dit selfs verkort en aantrek vir ons eerste huweliksherdenking.”
Vir haar troue is haar hare in ’n kort, sexy styl gesny deur Navnit Beharie van die haarsalon ME Myself and I in Johannesburg. Die haarstuk is deur Suzaan Heyns ontwerp. 2. Die perfekte somerdag by Old Mac Daddy.
FOTO: Shanna Jones
Die rok se fyn kant is só gesny dat dit soos vlokkies gehang het. Elke detail was belangrik – selfs die knope is met dieselfde materiaal as die rok se onderlaag oorgetrek.
FOTO: Shanna Jones
Rolanda se ruiker is bymekaar gesit deur haar vriendin Latisha Duarte, ’n blomme- en produksie- ontwerper in New York.
FOTO: Shanna Jones
Haar beste herinnering van die dag bly toe sy voor die kansel gestaan het.
“My broer, James, het my weggegee en my pa, Fanie, was ons predikant. Hy het mooi gepraat, oor hoe daar talle definisies van die liefde is, maar dat ons ons eie betekenis daarvoor moet vind. Ek het in ’n stadium omgekyk na die see van gesigte, en gesien hoe my sussie se kind Emma (2) op die Persiese tapyt waarop ons gestaan het, lê en speel met die roosblare wat daar gestrooi was. Dit was ’n perfekte oomblik, ’n volle sirkel,” sê sy, en haar oë blink sommer.
Dis juis omdat hulle hul eie definisie van ’n verhouding geskep het dat dit so goed werk, glo Jozua. “Ek kan aan niks ergers dink as om in ’n verhouding te wees waar jy jouself en jou lewe vir iemand moet verander nie. Ons is lief vir mekaar nes ons is, en nie een verwag van die ander om by mekaar aan te pas nie. Daar is ook geen van daai gewone reëls, soos dat iemand ’n sekere tyd tuis moet wees of op ’n spesifieke aand skottelgoed moet was nie.”
Rolanda stem saam.
“Ons lewens het nie roetine nie, en dit werk vir ons. Ons máák tyd vir mekaar deur geleenthede van alledaagse dinge te maak, soos om soggens saam koffie te drink. Ons sit ons selfone weg en geniet mekaar se geselskap. Verlede jaar het ons mekaar altesame ses maande nie gesien nie omdat ons gereeld weggaan vir werk, daarom waardeer ons die tyd wat ons saam het net meer.”
Spesiale oomblikke. Hulle het mekaar vier jaar gelede op die stel van Wolwedans in die skemer ontmoet. Voor die kansel, sê Jozua, was daar geen bekommernis nie, net oorweldigende vreugde.
FOTO: Shanna Jones
Rolanda se pa, Fanie, het die paartjie getrou. Vir die seremonie het Rolanda ook ’n bolero van chantilly-kant aangehad.
FOTO: Shanna Jones
Jozua het sy ma, Salomé, se trouring (sy ouers is geskei) laat herontwerp as verloofring. Die goue pand is oopgesny sodat ’n tweede pand, die trouring, daarby kon inpas om soos een ring te lyk. Saam is daar drie smaragde. “Hy ken my so goed, ek is mal oor die ring. Ek is nogal ’n sentimentele mens, baie familievas, en ek hou van ou goed wat ’n storie vertel.”
“Dis iets wat ek van Rolanda waardeer,” sê Jozua. “Sy sien die wêreld anders, sy’s kreatief en kunstig, en sy kyk na dinge deur haar hart.”
Hulle vul mekaar goed aan, sê Rolanda. “Joz is ’n ekstrovert en ek ’n introvert, maar hy het geleer om die stilte te waardeer vandat ons saam is. En hy hou my voete plat op die aarde – ek kan soms soos ’n deurmekaar kunstenaar voorkom.”
Maar die beste deel van getroud wees, sê sy, is dat hulle nou die res van hul lewens kan deel. Sy kyk diep in Jozua se oë. “Ek wil oud word saam met jou en oor alles gesels, jou elke dag leer ken.”
Top Billing (SABC 3) wys Donderdag, 14 April, om 19:30 Jozua en Rolanda se troue!
- Rolanda was op die voorblad van ons April-uitgawe. Vir die volledige storie oor hul troue koop die SARIE hier.
Rolanda en haar strooi- meisies (van links): aktrises Nadia Valvekens en Chan Marti, en haar suster, Rentia Fobian.
FOTO: Shanna Jones
Op die bruidspaar! Die blomme, deur 4 Every Event, was ’n kombinasie van rose en Overbergse fynbos.
FOTO: Shanna Jones
Rolanda het al ’n jaar vooraf vintage-plekmatjies begin versamel en elke gas se matjie was anders. Haar ouma Rolanda het van hulle borduur, en ander is deur vriende as geskenk gegee. Op die spyskaart was vye in parmaham, diepgebraaide parmesaan-en- risotto-balletjies, lamsvleis met geroosterde groente en aartappel- dauphinoise, en kaas en beskuitjies.
FOTO: Shanna Jones
n Versameling vintage-breekware is vir die tee- en koektafel gebruik. Jozua se ma, Salomé, het die troukoeke gebak – ’n sjokoladekoek, ’n wortelkoek en ’n suurlemoen-en-papawersaadkoek.
FOTO: Shanna Jones
- Rolanda was op die voorblad van ons April-uitgawe. Vir die volledige storie, deur Delia du Toit, oor hul troue koop die SARIE hier.
Verskaffers