Van uitstel kom afstel. En van afstel kom … Ek het nog nooit regtig geweet hoe daardie spreekwoord eindig nie, maar ek onthou so goed dat ek dit die heel eerste keer gehoor het by my Standerd 2 naaldwerk-juffrou – Juffrou Gesina. En tot vandag toe, wanneer iemand dit sê, maak my brein dit halfklaar met “… en van afstel kom …” en dan niks. Wel, wat ook al van afstel kom, ek dink dit het met my gebeur. Hier sit ek vanaand, met ‘n boks van my laaste trou-uitnodigings langs my rekenaar. Elkeen gemaak met soveel sorg (en rooiwyn). Nie een het sy bestemming bereik nie. Bad bride-to-be! Die uiteinde? Almal wat tot op hede nog nie hulle uitnodigings gekry het nie word nou betower met my (minder-moeite-maar-ewe-mooi) e-vite. Moet ek omverskoning vra? Ek is nie seker nie. Punt is, ‘n uitnodiging is gestuur. Miskien moet ek al die uitstellers se regte uitnodigings by die troue op die tafel neersit. Vir ‘n bietjie van ‘n lag. “Dankie dat jy gekom het. Hier is jou uitnodiging wat 11 maande gelede al gereed was om afgelewer te word. Sorry!”
So, vanaand gaan die laaste van die invites uit, en skoonma lewer die heel-heel laaste agt uitnodigings gedurende die week af. Of volgende week. Sy doen my ‘n groot guns. Ek gaan nie dikteer nie. Sy het in elkgeval nou weer die enorme taak aangepak van baba grootmaak. NEE, nie myne nie (if only!). Skoonma het besluit om een van Chloe se babahondjies te hou – die heel mooiste ene! So dit is nou weer van vooraf ‘n gesukkel met potty training en in-die-nag-opstaan-om-in-die-koue-te-gaan-piepie. Ek salute haar. Ek mis die bondeltjies vreugde. Maar ek is bitter dankbaar dat ek weer kan deurslaap. En dat ek Chloe nou nie meer hoef te deel met ‘n klomp bedorwe pups nie. Die laaste een het verlede naweek huis gekry en ek is bly dinge is weer back to normal. Nou is my vloere weer skoon en Chloe is genadiglik besig om haar ses cleavages te verloor, en haar figuur terug te kry. As dit maar net so maklik was vir ons mense. Sê die bride-to-be terwyl sy smul aan ‘n Magnum Mint.
Ek het nou maar vrede gemaak – nie opgegee nie – vrede gemaak met die feit dat ek net doodeenvoudig gaan aanhou prober om myself by die gym te kry. Dit gaan maar broekskeur (letterlik – my gymbroek het nog steeds sy gaatjie), maar ek het darem nou al sover gekom om my gymsak te pak en in die kar te laai. Môre is dit sulke tyd. Weer. Of oormôre. Want ek tutor more. So oormôre. SIEN! Dis nie eers my skuld nie! Ek het amptelik 4 maande oor voor ek voor die kansel staan en dit voel asof die laaste maande soos sekondes verbygaan. Fiksheidsgewys. Skielik het ek net genoeg tyd om miskien drie sizes te verloor. Nie die ses wat ek aan die begin van die jaar ingedagte gehad het nie. En dan begin ek panic omdat ek dalk nie mooi gaan lyk op my troue nie. Of dat ek een van daai vrouens gaan wees wat 20 jaar en twee kinders later na my troufotos gaan kyk en gaan dink: ‘jy kon wraggies beter gelyk het’. Depressing, nê? Ek dink ook so. So ek het vandag besluit ek gaan ophou om myself te stenig. Ek gaan doen wat ek kan met die tyd wat ek het en ek gaan gorgeous lyk! Ses sizes kleiner, drie sizes kleinder of een size kleiner – my rok moet oor twee maande begin vorm kry. En dit maak my meer opgewonde as enige meal replacement of toned triceps!
***
So hier sit ek. Koppie tee is yskoud. Chloe lê en kyk na haar been asof sy vir dit wag om op te spring en haar te entertain. Alley lê en kyk na Chloe asof sy vir háár wag om op te spring en haar te entertain. En ek sit met ‘n checklist! Ek wag tans op terugvoer van die dominee en ons fotograaf. Check and check! Ek is nou heeltemal in wedding-mode! Hoe voorbeeldig is ek nie! Gerhard se ring is (soortvan) gekies – hy moet net die finale besluit neem. Check. Die wittebrood se depositio is betaal en akkomodasie is bevestig. Check. Dit voel asof daar ‘n klomp spinnekoppies in my maag rondhol. (Ek het nog nooit regtig die butterfly-ding verstaan nie. Ek weet hoe ‘n spinnekop voel. Gril.)
Ek gaan nou tee maak, ‘n deep cleansing masker opsit en Moomin kyk (dankie, Johan) totdat ek wegraak in ‘n wereld van Duchess satin, Moo-Mammas en iewers waar Magnum-roomys nie vet maak nie. Miskien iewers in die Moo-vallei. Wie weet …
Groete,
L
Ek kan nie glo dit was net drie maande gelede toe ek nog uitgefreak het oor my dierbare babahond wat op hitte is nie. Needless to say, dit was drie maande van nuwe ervarings, vreeslik baie uitdagings en die vorming van ‘n hele nuwe verhouding tussen mens en dier. Die geboorteproses was een van die mees stresvolle ervarings nóg, aangesien ek nie ‘n clue gehad het wat ek doen of waarvoor ek moes uitkyk nie. Ek was ná ure nog met my veearts op die lyn – OP ‘n SATERDAG – net om uit te vind ek moet ‘n skêr, gare en baie handoeke byderhand hou! Scary! Maar 6 ure later, 2 pizzas wat bestel is vanaf die vloer in die badkamer en die helpende hande van ‘n wonderlike vriend, waarsonder geen van die babas sou gelewe het nie, is ek nou hier – die trotse eienaar van 5 splinternuwe, opvreetbaar-pragtige, twee-week-oue babahondjies wat, soos ek sit en skryf, die oulikste droom-geluidjies lê en maak. Net drie maande gelede was dit net ek en my Chloe wat die huis vir onsself gehad het. En vandag is ons 7. Netso! Ek is verlief. En bitter baie trots.
So baie dinge het gebeur in die afgelope paar weke. ′n Week gelede was dit tien weke sedert ek laas vir Gerhard gesien het. Ons het ‘n paar dae terug skielik nuus gekry van ‘n sterfte in die familie en moes inderhaas die pad Kimberley toe aanpak. Dit is glad nie die manier waarop ek sou hoop om hom weer te sien na soveel weke nie, maar ek is bitter dankbaar vir die bietjie-meer-as-‘n-dag wat ons bymekaar kon wees.
Toe ons 7 ure later oor die Oranjerivier ry, kon hierdie Namakwaland-hart nie anders as om nostalgies te raak nie. Dit is my wêreld. Dis waar ek mens geword het. ‘n Plek wat ek nog nie kon deel met die man met wie ek die res van my lewe gaan deurbring nie. ‘n Wereld waar trou nog glad nie eers in die kaarte was nie. Waar ons nog blikaspaai kon speel tot jou ma jou vier huise straataf roep om te kom eet, en waar ek my eerste crush skelm onder die swings in ons agterplaas gesoen het. Waar ek gehuil het omdat ek nie saam met die groot kinders kon gaan kamp nie, en waar ons Sondae oor die dorpswembad se muur geklim het om bietjie af te koel (omdat ons skielik te cool was om in die rivier te swem). Dit was in hierdie nostalgiese oomblik wat ek besluit het dat ek en Gerhard ons wittebrood met nog ‘n week sal moet verleng sodat ek, wanneer ons die pad terugvat vanaf Namibie, vir hom al hierdie dingetjies kan gaan wys. Sodat ek vir hom kan wys waar ek en my ma Sondae klippies gaan optel het op die koppie terwyl my pa slaap, en waar ek die letsel gekry het, wat nou nog op my regter enkel sit toe ek bo-oor ‘n palmboom geval het. Daardie tyd kon ek nie wag om daai klein dorpie agter te laat, en die beloftes te begin ontdek wat ‘die Kaap’ bied nie. Vandag kan ek nie wag om al daai mooi herineringe met my toekomstige man te deel nie. Ek kan nie dink aan ‘n beter wittebrood nie. Net die twee van ons. Pasgetroud in ‘n volgelaaide karretjie. Roadtrip, musiek, aanklop by familie en ou vriende en net die wete dat ek al hierdie herineringe kan deel met die grootste blessing wat nog ooit my pad gekruis het. En met wie ek gaan trou. Dit voel nog steeds vir my onwerklik!
Ek is besig om baie bewus te word van hoe naby Die Dag is. En ek kan nie méér opgewonde wees nie. Dit is nog vyf hele maande, en ek begin alreeds saans skoenlappers kry wanneer ek probeer om aan die slaap te raak (en terwyl ek my arme hond probeer leer om nie ‘baby sitting’ so letterlik op te neem nie. Ai…) Ek het weer gister vir die honderd-en-eenste eerste keer begin gym. Dit was genadiglik minder dramaties as wat ek verwag het. Ek het eerlikwaar gedink dit gaan voel soos om voor die skoolhoof in sy kantoor te staan, maar genadiglik was daar net twee ander mense en een trainer. Phew! Hierdie keer is ek van plan om dit deur te druk. Ek het vyf maande en het vir myself vyf kort termyn doelwitte gestel. Een maand op ‘n slag. Skoonpa sê ek kan dit selfs my doelwitte weekliks maak. Miskien moet ek elke tweede week inweeg. Die motivering warm hou. Klink vir my na ‘n wenresep. Ek het vir my ‘n gym buddy gekry en ons hou mekaar op die tone (wat ook goed is vir my kuite). Ek moet erken, my lyf is baie gelukkig om weer vir ‘n slag te voel soos die tannie in die All Bran flakes advertensie s’n. I’m getting it all. Wel, soortvan.
Ek sien die trou koördineerder hierdie naweek. Ons gaan uiteindelik uitvind wat die Groot Bedrag is. Ek het ‘n gevoel sodra ek uitklaring het oor die koste van ons troue, ons uiteindelik ernstig kan begin beplan, en koop en reël en nog meer opgewonde wees. Ek sal laat weet wat die uitkoms was van die vergadring. Dit is in hierdie stadium die enigste ding wat staan tussen ‘n passiewe bruid en ‘n aktiewe, koop-mal, heavy-troukoors, dekor-op-die-brein-bruid. Dit is die afspraak waarvoor ek al wag vandat ons die eerste keer na die venue gaan kyk het. Dinge hang huidiglik nog so bietjie in die lug. Ek hou daarvan as dinge op die grond lê.
Ek dink ek het alles ge-cover. Ek gaan nou verder op my maag op die vloer gaan lê en kyk na ons nuwe bondeltjies oulik wat nog toe oog tussen die komberse rondkruip. Ek sukkel baie hard om hulle nie op te tel nie, maar mamma is baie beskermend en reageer ongelukkig baie dramaties deur op die ander hondjies te gaan sit. Praat van ‘n tantrum gooi! Dit is ‘n groot storie. Ek sien darem nou al sy manoeuvre haarself so af en toe mooi suutjies rondom die hopie hondjies voor sy versigtig gaan lê, maar wanneer sy opgewonde raak is dit nie ‘n ongewone verskynsel om ‘n paar verwarde brakkies deur die lug te sien vlieg nie. We’ll get there.
Ek hoop om volgende keer die goeie tyding te bring dat die troue nou teen 120km/h gereel word en dat als mooi vorm aaneem. Wish me luck!
Groete,
L
Dit is 9pm en ek het sopas n bondel wasgoed in die masjien gesit. Hoekom? Want ek het nou eers by die huis gekom. Hoekom? Want ek het weer vir myself hopeloos te veel hooi op my miniatuur vurkie gelaai. Ek sien uit na die dae wanneer ek weer elke middag mal-frustreerd in die verkeer kan vassit omdat ek actually op ‘n behoorlike tyd by die kantoor wegkom.
Op pad terug huis toe, en na ‘n LIEFLIKE telefoon oproep met my one and only, het ek kans gehad om bietjie te reminisce. Rytyd is my dinktyd. Ek kan eerlikwaar soms glad nie onthou hoe ek by sekere van my bestemmings uitkom nie. Dit verduidelik ook dan miskien waarom ek soms my afdraai mis. Ek verloor tog só maklik fokus.
Vanaand onthou ek weer soos gister hoe ek angstig, vir die eerste keer, die groot “koebaai” moes trotseer toe my (toe nog) kêrel sy eerste trippie weg van die huis af moes aanpak. Dit sou die langste wees wat ons mekaar nie sou sien nie. Twee hele weke. Deesdae steek ons die twee maande-merk verby. Ek onthou hoe bang ek was dat hy my sou ontgroei. Ek was bang hy sou weer gewoond raak daaraan om op sy eie reg te kom.
Die ring wat nou aan my vinger pronk was immers nog glad nie eers ters prake nie. Ek moes karring aan hom om net die onderwep aan te raak! En vandag oor twee weke, is dit ‘n hele jaar later. ‘n Jaar van harde lesse leer. Leer hoe om ‘koebaai’ te sê omdat die opoffering in die langtermyn die moeite werd gaan wees. Leer dat ‘n mens soms moet val om jou balans terug te kry. Leer dat die mense wat ‘n kern rol gespeel het in die fondasie van jou verhouding, altyd sal aanhou bid vir julle wanneer jy soms die pad mis. Leer hoe om weer te onthou waarop jy verlief geraak het wanneer ‘ek mis jou’ en ‘ek is lief vir jou’ soveel keer gesê word, dat jy bang is dit verloor betekenis. En dan natuurlik ook leer hoe om soveel vreugde uit so ‘n uitdagende situasie te kan tap. Elke heerlike ‘hallo’ op die lughawe wanneer sy rooi baard onder die ‘arrivals’ bordjie verskyn. Die roadtrips om by almal uit te kom wat ook ‘n stukkie van hom soek wanneer hy by die huis is, terwyl ek uitsien na vanaand wanneer ek hom met niemand hoef te deel nie. Die droomverlore oomblike wanneer hy besig is met iets so eenvoudig soos vleisbraai en ek die voorreg het om nader te stap en my arms om sy lyf te vou. Oomblike soos nou wanneer ek met ‘n traan in my oog besef dat ek die res van my lewe het om te poog om hom so gelukkig te maak soos hy my maak wanneerek net aan hom dink.
Ek voel vanaand bevoorreg om deel te kan wees van ‘n lewe vol avontuur en eindelose verrassings. Vlinders in my maag vir ‘n man wat als opoffer om my gelukkig te maak. ‘n (amper) Skoonfamilie wat my aanvaar het met al my issues en baggasie. Die angstige opgewondenheid wat in my borrel wanneer ek besef dat ek nog ‘n hele boks vol trou-uitnodigings het wat in die spaarkamer staan, en dan tot die besef te kom dat ek my gat sal moet roer as ek enige gaste by my troue wil he, omdat ek actually op trou staan! Die voorreg om deel te wees van ‘n verhouding wat heeltemal versadig is met liefde en respek ten spyte van al die uitdagings en struikelblokke.
Ek raak kinderlik opgewonde wanneer ek dink aan hoe naby ons troudag is. Ek droom van die musiek, en die kansel, die rok en sy gesig. Ek droom van ons beloftes aan mekaar, en hoe bevoorreg ek is om vir die res van my lewe iemand se alles te mag wees.
Ek het bietjie vroeër deur my laaie gekrap opsoek na my naaldwerkblikkie toe ek afkom op die brief wat ek vir hom geskryf het die dag voor hy vir die eerste keer weg van die huis af moes werk. Ek het daardie aand so tussendeur die snot en trane gesukkel om die brief vir hom te lees, heeltemal oorweldig deur die verandering waaraan ek gewoond sou moes raak. Wanneer ek dit nou weer lees kan ek nie anders as om ‘n geamusseerde glimlag op my gesig te kry nie. Dinge wat toe so onbekend was, is nou baie minder uitdagend.
‘Dit bewe hier binne my, die pad is onbekend maar saam met jou, saam met jou sal ek dit dans’ -Riana Nel se ‘Dans’.
Ons heel eerste date was afgesluit met ‘n musieklose slow dance onder die sterre, en miskien is ek die laaste tyd hopeloos te sentimenteel. Miskein is die twee maande besig om vir my baie lank te word. En miskien sal my inskrywings bietjie meer ligsinnig word nadat ek hom weer gesien het.
Miskien het ek daardie aand,na ons eerste date, nog nie geweet dat ek en Gerhard met mekaar gaan trou nie, maar ek het daar en dan geweet dat hy die een is saam met wie ek elke onbekende pad wil dans.
Groete,
L.
Ek gaan jag. Soos in khaki-klere-met-′n-geweer-opsoek-na-prooi-terwyl-die-muggies-jou-pla-JAG! En nie tarentaal skiet, of met ′n windbuks nie. Jag-jag, met ′n regte-egte geweer en als! Miskien is ek net ′n bietjie tè opgewonde oor die hele affêre. Dit gaan immers my eerste keer wees en die “inisiasie” storie laat veel te wense. Aan die ander kant is dit seker ook beter dat die inisiërings proses nou moet gebeur in plaas van volgende jaar wanneer ons WEER (jippie!) gaan jag vir ons wittebrood.
Bloed op jou gesig en rou lewer sê nou nie rerig “ek is lief vir jou” nie. Jig! Ek is tans besig om rond te snuffel vir die gepaste wardrobe. Nuwe (2de handse) jeans, lekker warm baadjies en skoene wat die Namibiese velde kan baasraak. Na die telefoon oproep gisteraand is dit min of meer al waaraan ek kan dink. Nie net beteken dit ′n welverdiende wegbreek nà hierdie MAL twee maande nie, maar dit beteken twee hele weke saam met die liefde van my lewe, weg van beskawing, naby aan die natuur. Ek het gisteraand opnuut besef waarom ek so lief is vir daai mansmens. Wanneer twee mense dieselfde belangstellings deel is die verhouding halfpad selfonderhoudend. Twee stukkies van ′n puzzle. Soul mates. En toe begin my kop wandel. Maak maar weer vas jou gordel, dames en here. Hierdie meisiekind gaan nou baie diep raak.
Ek sal my kop op ′n blok sit dat 100% van die hopeless romantics (soos ek) sonder om te dink sal sê dat soul mates defnitief ′n realiteit is. Jou one and only. Jou happily ever after. En ek stem saam. Die man/vrou met wie jy gaan trou is daardie een wie se siel joune gaan weerkaats die oomblik wat julle ontmoet. Maar ek moes myself konfronteer met die vraag: Is dit moontlik om meer as een sielsgenoot te hê? Ek weet nie van jou nie, maar as ek my eie lewe onder die vergrootglas plaas, is die antwoord ′n onmisbare JA. Soul mate-S. Meervoud. Ek mag verkeerd wees, maar in my opinie is jou siel hopeloos te kompleks om net een mind blowing verhouding in ′n leeftyd te vorm. Ek dink dit het baie ruimte vir die vorming van meer as een betekenisvolle verhouding. En voor ek begin klink asof ek poligamie ondersteun wil ek net sê ek verwys nie net na romantiese verhoudings nie. Ek kan eerlikwaar sê dat ek die wonderlike voorreg het om sewe sielsgenote in my lewe te hê. Sewe mense wat elkeen my siel aangegryp het en op ′n onherroeplike manier my lewe verander het. Sewe mense met wie ek belangstellings deel wat ek nie met een van die ander ses deel nie. En ek is nederig dankbaar vir elkeen van hierdie bydraes tot my lewe.
Vanuit ′n geloofsoogpunt glo ek absoluut dat ons liewe Vader een mens uitgesoek het om die res van sy/haar lewe saam met jou deur te bring. Ek het nou die dag ′n wonderlike openbaring beleef toe my vriendin op pad kerk toe weer ′n wanneer-gaan-ek-die-regte-een-kry-oomblik gehad het. Dit is die moeilikste vraag om te beantwoord as jyself jare lank met die frustrasie moes worstel. “Ek weet nie,” het ek gesê. “Die regte een is op pad”. Eina. Die mees holruggeryde antwoord, maar ongelukkig ook die een met die meeste waarheid. Ek onthou hoe ek jare lank met die Here baklei het! Hard baklei het. Tantrums gegooi het. Geskree het. Waar is hy??! Ek is reg! Ek is al jare lank reg!
As ek nou terugdink, kan ek nie anders as om te lag nie. Uit ′n geestelike oogpunt moes my en Gerhard se ontmoeting omtrent iets gewees het om te aanskou. Ek dink die Here het in ′n stadium net besluit, “Okay FINE! Hier is hy!” en vir Gerhard ′n effense stampie in my rigting gegee. Arme man. Kan eintlik sien hoe hy met so ′n effense omval-hoppie in my lewe ingeruk is! En dit is met hierdie gedagte wat ek die mees insiggewende oomblik van my lewe gehad het. En ek wil dit graag deel met elkeen van my enkellopende vriende en vriendinne.
Jy en jou toekomstige eggenoot is werklik soos twee dele van dieselfde item wat tydelik uitmekaargehaal was. Lego blokkies, if you will. Net jy gaan by hom/haar pas. Niemand anders by jou nie. Niemand anders by hom/haar nie. Jy gaan deur die jare probeer om by die verkeerde blokkies in te pas, en dit gaan okei voel, maar na ′n paar maande gaan jy die onreëlmatigheid en wrywing nie verder kan ignoreer nie. En julle gaan uiteindelik weer vanmekaar beweeg. Tot jy die volgende Lego blokkie probeer.
Hier is wat ek wil hê jy nou moet verteer indien jy hartstogtelik opsoek is na Die Een en op die punt is op moed op te gee– die persoon wat vir jou beskore is, maar nog nie in jou lewe is nie, is soos ons gesels besig is om gevorm te word om by jou te pas. Jyself is waarskynlik nog besig om gevorm te word om ook by hom/haar te pas. En dalk het julle al ontmoet. Dalk ken julle mekaar al jare. Of dalk het julle nog nie ′n oog opmekaar gelê nie, maar een ding is seker – julle gaan mekaar vind/herontdek op ′n tydstip wanneer julle albei sonder moeite en wrywing bymekaar gaan inpas. As jy, soos ek, jou eggenoot in jou lewe probeer inforseer gaan die wrywing in die begin van die verhouding baie oorweldigend wees. Moontlik verwoestend. Daar is geen twyfel in my hart dat Gerhard my ander blokkie is nie, maar ons moes reeds baie sakke sout eet, omdat ek so haastig was om my man te kry. Ons was nog nie gereed vir mekaar nie. Ons was nog albei besig om gevorm te word vir mekaar.
Ek dank die Here dat sy genade genoeg was om my en Gerhard deur die vormingsproses te dra tot op die punt waar die twee blokkies nou mooi bymekaar pas. Want sodra ons trou aan mekaar beloof gaan daai twee blokkies as ′n eenheid vanvooraf gehervorm word. En dit is iets wat jy moet besef wanneer jy saans jou lipstick aansit, met die hoopvolle verwagting dat jy hom vanaand raakloop. Of wanneer jy jou mooiste rooi das aantrek en jou vingers kruis dat sy jou vanaand sal raaksien. Jy moet besef dat jy nie enkellopend is omdat jy nie goed genoeg is, of nie mooi genoeg is, of nie ryk genoeg is nie. Jy is enkellopend omdat jy en jou eggenoot nog nie klaar gevorm is om bymekaar te pas nie. Ek is bitter dankbaar vir die drie jaar wat ek en Gerhard al deel kan wees van mekaar se lewens. Ek het op die harde manier geleer dat die begin stadium van ons verhouding baie gladder kon verloop as ek net die geduld gehad het en hom (en myself) kans te gun om klaar te vorm.
Daar is ′n rede waarom sommige verhoudings (vriendskappe/familie/romanties) van dag een af loop soos ′n masjien wat goed geolie is. Dit is die tipe verhoudings waar albei partye klaar gevorm is en gereed was om mekaar te ontmoet. ′n Ma wat geboorte gee, sukkel nie om oor die weg te kom met haar pasgebore baba nie. Click. ′n Beste vriendin wat jou pad kruis op universiteit, 20 jaar in jou lewe in, met geen ooglopende eenderse belangstellings nie. Click. ′n Vriend wat jou nie oordeel omdat jy op 28-jarige ouderdom nog Nestum babapap eet nie, omdat daar in sy kas ook ′n boks staan. Click. ′n Suster wat jy op 18-jarige ouderdom herontdek en nie kan glo dat julle soveel tyd gemors het nie. Click.
Ek hoop van harte dat ek ten minste een iemand kon help met ′n stukkie raad wat ook maar eers ′n paar weke terug aan my geopenbaar is. Jou hart is kosbaar en niemand kan dit oppas behalwe jy nie. Ek bid dat jy en jou Lego blokkie binnekort klaar gevorm sal wees indien jy ook al jare lank gereed is vir jou happily ever after.
Groete,
L
N.S. Vir die 7 wonders in my lewe:
Gerhard – Ek raak elke dag van vooraf verlief op jou en die lewe waaraan jy my voorgestel het.
Mamma – As ek eendag groot is wil ek soos jy wees.
Bianca – Ek sien uit na al die popspeel wat voorlê en waarop ons uitgemis het toe ons klein was. Ek sal nie weer suinig wees met ons babaklere nie.
Carissa – Jy laat my altyd voel soos ‘n rockstar. Ek kry die man jammer wat moet streef om goed genoeg te wees vir jou.
Izelle – Jou hart sit buite jou lyf. Ek wil die heeltyd skerm dat jy dit nie vir die wêreld gee nie. Jy is vir my so kosbaar.
Charlotte – Vir die grootmens wêreld waaraan jy my so mildelik bekendgestel het en vir al jou vertroue en wie jy is. Net, dankie!
Johan dT– Moet nooit ophou om ‘n das te dra nie. Moet nooit ophou liefwees nie en moet nooit vergeet hoe baie jy werd is nie.
Hoe gemaak as jy so besig is om te lewe dat jy nie tyd het om te lewe nie? Ek sê net vanaand vir my aanstaande skoonma, dat ek dink ek vir my ’n To-do list moet opstel om my persoonlike lewe te organiseer. Dit werk perfek by die kantoor, so hoekom nie by die huis nie? En ek praat nie van die algemene nota op die yskas wat jou herinner aan Sussie se skoolkonsert, of om brood te koop, of te onthou om Dinsdag die vullis uit te neem nie. My To-do list sal aktiwiteite insluit soos: Onthou om jou pa te bel om te hoor hoe dit gaan. Onthou om jou Tutor-student se ma te Whatsapp om uit te vind hoe haar bloedjie in sy toets gedoen het. Onthou om die geyser aan te sit, en onthou om ’n To do list te maak vir more se aktiwiteite op kantoor. My lewe (as jy dit ’n lewe wil noem) is huidiglik so dol dat ek vroeër die week ’n liewe-dierbare vriendin se e-pos as volg beantwoord het:
“Stuur asseblief weer Vrydag vir my ’n e-pos en herinner my om op hierdie een te reply. Ek het regtig baie om te vertel, maar ek gaan vergeet dat jy my gekontak het. Dit gaan goed met my ook. Loveyoubaai!” Of so iets.
So vir die van julle wat twee weke laas van my gehoor het – ek het nie geëmigreer nie. Ek het niemand afgeskryf nie, en my naam is nogsteeds dieselfde.
Dit voel soos ’n sonde om hier te sit en skryf, koppie koffie langs my bed (wat ek nou al 2 keer in die mikrogolf warm gemaak het), Chloe wat die KFC kardoes verskeur om by die tamatiesous uit te kom, terwyl ’n stukkie Chris Tomlin in die agtergrond speel. Ek kan myself amper verbeel dat niks my jaag nie (ek moet onthou om ons Honeymoon reëlings te bevestig). Ek was onder die indruk dat hierdie week soos twee weke sou voel met die klomp vakansiedae wat ons agter die rug het, maar toe ek vanoggend probeer besluit watter een van my baie (drie) kantooruitrustings om aan te trek (ek moet onthou om waspoeier te koop), toe tref dit my dat ek hierdie keuse nog net een keer die week hoef te maak. Dan is dit Vrydag en niemand gee om wat mens dra op ’n Vrydag nie.
Silwer randjie – ek het huidiglik die troukoek wat vir ’n rukkie my aandag kan aflei (Dankie, L!). Dit verskaf my eindelose genot om ’n deeltjie van my tyd te kan afstaan aan iets so nou verwant aan ons troue. Die bakster het my vandag gevra vir ’n prentjie sodat sy solank kan begin speel met idees, so ek is tans besig om deur Pinterest te blaai opsoek na Die Koek. Die enigste minder aangename deel van hierdie hele uitstappie is dat ek nou permanent lus is vir roomkaas icing. Met ’n lepel. Uit ’n bak. Heel naweek lank. Sonder om gewig op te tel. A girl can dream. (dramatise sug).
Die naweek klink soos een of ander aktiwiteit waarvan ’n mens net lees in ’n glanstydskrif. Jy weet, iets wat jy baie graag sal wil doen, maar weet jy nie kan bekostig nie. Ek sal doodeenvoudig Vrydag na werk ’n daadwerlike poging moet aanwend om die off-switch in my brein te vind sodat ek nie skuldig voel oor die klomp werk wat ek weet ek nie teen Vrydagmiddag gaan klaar kry nie. Dan het ek boonop maande gelede ingestem om ’n shoot te doen Saterdagoggend (met geen wardrobe, geen make-up artist en geen idee hoe om my lyf Bollywood meets Cleopatra te hou nie. EEEK!) Ek sit met ’n krapperige keel van die in-die-koue-uit-die-koue-weer en ek het skoon vergeet om te stop vir keelsproei. To-do list item nommer 68. Net na nommer 67 – onthou om te slaap.
Dit is 20:54. Ek voel Chloe se warm asem hier teen my bobeen soos sy luidkeels lê en snork – doodmoeg gestoei met die sakkies tamatiesous. My bed was grys. Dit is nie meer nie. Skoon beddegoed? Dit kan wag. Nou gaan ek eers my koffie vir die derde keer warm maak, my musiek net so bietjie harder draai en myself verbeel ek hou vakansie in die blaaie van ’n Top Billing tydskrif.
N.S. My baas het my nou die dag gevra of hy darem al gefeature het in een van my inskrywings (hy is tog so beskeie). En ek moes aan hom erken dat ek tot op hede nog nie so ver gekom het om sy alomteenwoordige amazingness (regtig, so beskeie) te kon deel met die lesers nie. Hoe onverskoonbaar ook al dit mag wees, was die geleentheid net nog nooit daar nie. So graag maak ek dan nou van hierdie geleentheid gebruik om hierdie inskrywing op te dra aan die een mens wat my tot aan die einde van dae kan frustreer, maar altyd kan opmaak met ’n vinnige lunch of ’n baie-baie lame grappie. Dankie Johan, dankie Johan, jy’s die beste Johan! (ek het die script by die werk vergeet, maar dit gaan mos iets in daai lyn, of hoe?)
Mooi bly,
L
Ek wens daar was vir my ook iets soos vier vakansies in ′n jaar. Ek wens ek kon my hondjie saam met my kantoor toe bring. Ek wens Sabie was net ′n halfuur se ry van die huis af. Ek wens die troue was oor twee weke sodat ek al my rok elke dag kan aanpas. Ek wens ek kon suiwel prossesseer.
Vanoggend is my kar weer aangedryf deur my craving na ′n Mochachino, eerder as my interne GPS. As my kar ′n regte GPS gehad het sou ek vanoggend ′n paar keer moes “recalculate” aangesien ek, sonder om te dink, rigting ingeslaan het na die naaste Wild Bean Café. Mochachino. Die verkeersligte was almal teen my. Mochachino. Die taxis was weer op hulle stukke. Mochachino. Die radio omroeper adverteer met groot entoesiasme die nuwe Opel MOCCA. Stop dit!
Ek het gevoel soos James Bond toe ek uiteindelik met ′n wafferse move parkering vind. Ek kan al proe hoe die chocolate poeier bo-op my onder kiestande gaan lê, sodat dit my tande so ′n dowwe klap geluid maak wanneer ek hulle opmekaar sit.
“Waarmee help ons vanoggend?” Mochachino.
“Een rooibostee, asseblief. Twee Sweetners”. Craving: 0. Gewete: 1.
Ek moet erken, dit voel baie lekkerder om hier te sit en skryf met ′n koppie tee, Marmite op (volgraan) toast en my (altyd getroue) 1.5liter bottel water. Die alternatief sou wees ′n bacon, eier en kaas croissant, ′n Mochachino en ′n defnitiewe lactose intolerant episode wat my sou forseer het om halfdag verlof in te sit. Kom ons vat maar nog ′n slukkie water.
Dit is terug gym toe vanaand. Dis korrek. Sedert ons laas gesels het is ek STEEDS nie terug nie. Ek het (op die oomblik) daai pas-by-die-gym-aangesluit-gevoel wat ek hoop teen 5pm nog nie geblus is nie. Ek is lus om te transformeer! In die woorde van my gunstelling styl-ikoon, Queen Elsa: “Let it go!” The sweat never bothered me anyway. Okei, dis corny. Ek het die naweek Frozen gekyk en is nog nie gereed om van die karakters in my kop ontslae te raak nie. Ek oorweeg selfs om my trourok Queen Elsa-style te maak. Gee dit nog so ′n dag.
Ek het gister besef dat daar absoluut niks besig is om te gebeur wat enigiets met die troue te doen het nie. Hoe ek het dit besef? Toe ek my rekenaar aansit om te begin skryf, net om te besef dat ek niks het om oor te skryf nie. Soms vergeet ek ek staan op trou! So ek het besluit om elke week een ding te doen wat iets te doen het met ons troue. Hoe klein ook al. En ons begin sommer met die material vir die rok. Ek sal dit koop en dan diep weg bêre in my linnekas, binne-in plastiek, sodat ek darem so af en toe net daarna kan kyk en aan dit kan vat. En dalk daaraan ruik. Die rok self gaan eers Oktober begin vorm kry, maar ek kan nie só lank wag nie. Ek het ′n kalender opgestel wat die weke aftel, en ek het ′n trou-verwante aktiwiteit toegeken aan elke week tot en met D-dag (of soos ek dit noem “T-dag”). Not just a pretty face. Ek en Chloe het gister ure lank daaraan spandeer, en saam besluit om in week twee tyd te wy aan haar uitrusting. Pinterest: Dog. Wedding. Outfit. My hart het gesmelt soos Olaf in die somer.
Dit gaan goed met ons in-hitte hondjie. Die “aktiwiteit” is iets waaraan ek nie regtig gewoond kan raak nie, en ek is kort-kort besig om al wat ′n reuen is van haar af te jaag. Sy is aansienlik moeër as gewoonlik, so ek hoop maar natuur woed himself vinnig uit, sodat ek nie meer drie keer ′n week hoef te spring clean nie.
Oor presies 7 minute is ek veronderstel om in te klok en die hope werk aan te durf wat ek sorgloos laat oorstaan het voor die langnaweek. 7 minute is natuurlik oorgenoeg tyd om eers gou ′n draai te maak by die koffiewinkel. Inspirasie word gespel: M-O-C-H-A-C-H-I-N-O.
L.
Asem in. Asem uit. My baba hondjie, dames en here, is gereed om ’n Mamma te word! Wat. Gaan aan. Met die natuur? Sy is nog nie eens ’n volle een jaartjie oud nie en sy’t my alreeds op die foon met al wat ’n veearts is ter voorbereiding vir die tyd wat voorlê. Okei, miskien hol ek dinge bietjie vooruit. Chloe het so twee dae terug op hitte gegaan (is daar steeds nie ’n mooier manier om dit te sê nie?).
Ek house sit darem al vir die laaste week ’n huis waar Chloe se enigste geselskap diè is van ’n ander teefhond, maar Sondag is ons terug huis toe. Terug na twee wellustige reuenhonde. En volgens die dagboek gaan sy “vatbaar” wees oor ’n week. Vir een volle week! Wat op dees aarde gaan ek dan met haar maak? Ek werk! Ek reël ’n troue! Hierdie bruidjie het nie tyd om agter ’n perky hondjie aan te hardloop om seker te maak sy gebruik die nodige voorbehoed nie! Ek dink ek sal maar vanaand met haar ‘Die Talk’ moet hê. Sy sal dood eenvoudig die repurkussies van tienerswangerskappe mooi moet verstaan! Ekself het dan nog nie eens die voorreg gehad nie!
Ek het darem my huiswerk baie deeglik gedoen. Ek het ’n kalender opgestel, ek het covers vir alles wat nie met Handy Andy gesteriliseer kan word nie, en ek het selfs doggy-diapers bestel. Ek is REG! En dan moet ek erken – die potensiële pa gaan sorg vir die mooiste, mooiste baster-babahondjies. Ek mis dit om ’n ou klien dingetjie te kan vertroetel, en dis nie asof ons nie die nodige hulpbronne het om die swangerskap te fasiliteer nie. Ons kry na die bevalling goeie huise vir die babas en ons versorg Mamma-hond mooi terwyl sy in die ander tyd is. Dalk neem dit bietjie van my eie broeisgeit weg. Mens kan net hoop. My verloofde het vanoggend ,voor ek hom lughawe toe geneem het, net gelag. Hy het dit nie gesê nie, maar ek kon sien wat hy dink. “Haha! Sterkte-hoor-okei-baai!” Skirminkel!
Sug… Dit is nog nie eens nege ure nie en ek wens net die skirminkel wil weer op ’n vliegtuig klim en terugkom huis toe. Dit was die kortste week van my lewe! Ons het nie eers een keer oor die troue gepraat nie! Ek het gisteraand gelê en baie hard probeer onthou wat ons die naweek gedoen het, want ek kon sweer die naweek het saam met die elektrisiteit verdwyn! Ek onthou daar was ’n Jacuzzi. En ’n braaivuur. En ek dink ons het ’n fliek gekyk. Maar die res is ’n blur! Ek wens soms elke minuut saam met hom was so lank soos 2 Minute Noodle-minute. Daai minute hou vir ewig aan! Regte tyd vlieg so vinnig. Ek dink, van nou af is dit al kos wat ek in die huis aanhou wanneer hy kom kuier. Dan spandeer ons nou maar kwaliteit tyd voor die mikrogolf. Miskien nie die mees romantiese ligging nie, maar tyd sal ten minste nie so gou verbygaan nie. En as dit doen, dan is die noodles ten minste vinnig gaar. Wen-wen.
Nodeloos om te sê, ek was nie een keer in hierdie sewe dae by die gym nie. Die honde het elke aand met my gaan stap/draf, maar daar was geen tyd vir boot camp nie. En natuurlik het elke liewe post wat die gym op Facebook geplaas het gelyk asof dit direk op my gemik was. Soos wanneer jy in die kerk sit en jy weet die dominee praat direk met jou. “Make muscles. Not excuses”. Eina. “Excuses are the nails used to build a house of failure”. OKEI, EK HET DIT! Maar, as die tekkie jou pas, trek hom aan. En gaan gym toe. Daar lê wel inspirasie by die een post wat ek op hulle blad gesien het: “There is no such thing as going back to square one. Even when you feel like you have to start over. You are trying again with more knowledge, strength and power than you had before. Your journey was never over. It was just waiting for you to find it again”. Ek is gereed. Vir gym en vir swanger hondjies. Bring it on!
My foon lui. Dit is die dierekliniek. Ek wil gou hoor of honde ook moeg is in hul eerste “trimester” (een newe-effek wat ek MET OPE ARMS sal verwelkom). En of sy cravings gaan kry. Of morning sickness!
Sterktehoorokeibaai!
L.
So kyk ek en twee vriendinne nou die die dag die fliek My Best Friend’s Wedding. Oulike fliek. Ekself is ’n groot Julia Roberts fan. Een van hulle sug en vra vir my: “Kry ’n mens regtig sulke movie moments?”
Hollywood, het nou maar eenmaal ’n manier om iets wat sò kompleks is te kondenseer tot iets baie eenvoudig. Sonder om te dink, sê ek ewe trots, “Ja, natuurlik”. Sy glimlag tevrede en draai droomverlore terug na die skerm. En net daar verander my glimlag in ’n effense frons. Kry mens regtig sulke movie moments? Natuurlik. Dit is dan die dryfkrag agter elke enkellopende meisie se soektog na ‘Die Een’, nie waar nie? Beleef ek nog movie moments? Baie beslis! Daar was daai keer toe ons … Okei, wel, wat van die dag toe hy … Okei, woah! Daar moet IETS wees! As my lewe ’n movie was, watter sleutelgebeure sou Hollywood kon kondenseer om een van hulle soppy block busters te vervaardig? Backtrack.
Die ontmoeting was rukkerig. ’n Meisie probeer hard om ’n aantreklike jong man se aandag te trek. Die aantreklike jong man sien die meisie glad nie raak nie. Die aantreklike jong man verdwyn huis toe sonder ’n woord.
Die meisie sien die aantreklike jong man drie dae later by aksiekrieket en die meisie se vriendin stel haar voor aan die aantreklike jong man. Geen sparks vlieg rond nie. Geen klokke. Geen vlinders. Die meisie wonder of die aantreklike jong man enige tafelmaniere het. Of hy uit ’n goeie ouerhuis kom, en of hy enige sosiale skills besit. Sy wonder hoe hy meisies hanteer. Is hy ’n gentleman? Kan hy ’n gesprek voer?
Twee weke later vra die aantreklike jong man of hy die meisie kan vegesel na ’n verjaarsdagpartytjie. Die meisie huiwer, maar stem in. Die aantreklike jong man daag op in sy bakkie, cooler bag in die hand, nie ‘n minuut later as afgespreek nie, en maak die motordeur oop vir die meisie. Hy gesels sonder ophou tydens die hele rit na die partytjie. Die meisie sê nie ’n woord nie. Sy probeer hard om na die aantreklike jong man te luister bo die geraas van klokke in haar ore. Dit is lastig. Die aantreklike jong man en die meisie deel later hul eerste soen. Sparks! Vlinders! Nog klokke!
Wat daarna sou volg was 3 jaar se Valentynsdae gevul met kaartjies en geheime pakkies wat by haar werk afgelewer word. Blomme en blinddoek-verrassings op haar verjaarsdag. Boodskappe en e-posse wat aan haar gestuur is in oomblike van absolute verlangende verliefdheid. Geskenke, vroegoggend kampkoffie, handvashou in die flieks … en uiteindelik, die verlowing. Die meisie het haar hero gevind.
***
Ek het op die ou einde die hele fliek gemis, maar tot die slotsom gekom – movie moments bestaan. Ek dink ons is net te geneig om te soek na presies dit wat ons so soppy laat voel. Daai foot-popping eerste soen. Die man wat sy geliefde dramaties op die lughawe keer om op die vliegtuig te klim. Die toevallige ontmoeting tussen twee mense op ’n onverwagtse tyd en plek. Romantiese wegbreke na Parys. Happily ever after.
Ons soek die heeltyd na die prins, maar vergeet dat ons soms eers die padda moet soen. En verder moet ons in ag hou dat die gemiddelde fliek slegs 90 minute lank is. Die gemiddelde lewe is 42,048,000 minute lank. Gestel daai movie bevat 5 magical oomblike wat jou na die tissues laat gryp, dit sou die ekwiwalent wees van een movie moment elke 16 jaar! Dink daaroor! Chick-flieks is wonderlik! Dit gee meisies hoop. Dit neem ons weg na plekke waar ridders vrylik op hul wit perde rondwandel. Dit gee ons ’n verskoning om te huil soos klein dogtertjies en bakke vol roomys op te eet. Dit is terapie wanneer ’n verhouding misluk en ons nodig het om kwaad te wees vir Prince Charming. Maar movie moments in die regte lewe is iets waaraan ’n mens doelbewus moet werk. Geen vrou word wakker met die perfekte make-up en minty vars asem nie. Soms moet ons badkamer toe trippel voor manlief wakker word om die mascara lyne af te was en vinnig ’n blerts tandepasta op die tong te sit. Die gevolg? “Jy lyk so pragtig wanneer jy wakker word”. Movie moment.
My hero kom môre huis toe vir een hele week en al bestaan ons verhouding nie uit impulsiewe trippies na Parys, of Breakfast by Tiffany’s nie, verruil ek ons Skaak-Speel-Op-’n-Saterdag-Aand-movie vir geen Hollywood fantasie in die wêreld nie.
Groete,
L
Maandag Boot Camp? Check. Stort? Check. Koffie (met Canderal)? Check. Vierpoot-modderpatroontjies oral op my pasgewasde beddegoed – Sug… Ek sien so baie uit na Ma-wees. Geen sarkasme. Net mal-in-my-kop-verlief op hierdie belonende gevoel wat spruit uit lief-hê, versorg, omgee, skoonmaak, kosgee, min slaap en, beste van alles, om benodig te word. Ek weet een-honderd-duisend mammas skater moontlik nou van die lag vir hierdie nat-agter-die-ore-bruidjie wat geen benul het waarvan sy praat nie. En ek gee toe, ek weet heel waarskynlik nie. Maar ek weet dat ek voorbereid is daarop om nooit voorbereid te wees nie. Ek is reg om altyd verkeerd te wees en ek is gereed om nooit op my merke te wees nie. Dit maak my siels gelukkig wanneer Die Ma en Die (amper) Skoonma so lekker hekelpatrone uitruil en opgewonde raak oor babakamers en booties. Maar, moenie worry nie, ek besef ek het nog ’n troue om kaf te draf voor ons na die volgende avontuur kan beweeg. Een (baba)treetjie op ’n slag. Ek is ’n vrou van orde (tans). Kys. Ring. Dominee. Babas. In daai volgorde.
En gepraat van, Mnr. Dominee het my (uiteindelik) ge-email! Hier is wat hy sê: “Jammer vir die wag. Ek stuur binnekort vir jou terugvoer”. My gesig? Daai oomblik wanneer jy ’n slaai eet en iemand loop verby met ’n bord vol chocolate brownies. Is.Jy.Ernstig??
En terwyl ons admin gesels, weet julle dalk wat die protokol is met betrekking tot gaste wat nie “Ja” of “Nee” RSVP nie? Stuur ek weer ’n boodskap teen daardie tyd om hulle te herinner aan die uitnodiging, of sien ek dit as ’n “Nee”? As iemand nog wonder wat om vir my te koop vir my kombuistee, Troue-reël vir dummies, klink na iets wat ek kan gebruik.
Op ’n ligter noot: Ek het gister myself so geïnspireer, ek voel soos Cat Stevens. Can’t keep it in! Ek het julle (mos) laasweek meegedeel dat ek myself ingeskryf het vir Boot Camp-maand by my gym. Vir my het dit amptelik gister begin. Eerste dag van 4 weke. Ek is amped! Ek is gemotiveerd en ek voel wonderlik! Ek moet bieg, ek het baie amper nie gegaan nie. Ek is nou vas oortuig dat daar geen ander aktiwiteit op aarde is soos oefening wat soveel ruimte skep vir verskonings nie. My petrol is min. Ek sal more oggend 05:00 gaan (yeah right!). Ek het nie geëet nie en gaan nie my beste kan lewer nie. My broek het ’n gat in (wat waar is). Ek moet kosmaak. My hond mis my. Bla Bla Bla. Maar toe word ek herinner aan ’n stukkie self-motivering waarmee ek so ’n paar maande gelede vorendag gekom het – elke keer nadat jy geoefen het, is jy alreeds fikser en gesonder as wat jy was voordat jy geoefen het. Al is dit net ’n bietjie fikser. Laat dit insink.
Dit maak nie saak hoe oorgewig of hoe onfiks jy is nie, as jy vanaand gaan stap, al is dit net 50 treë, het jy reeds 50 treë meer gestap as gister, en is jy onmiddelik op ’n gesonder/fikser plek as ’n dag vantevore. Is dit aansporing, of wat! Iemand het eenkeer vir my gesê: Verbeel jou jy het verlede jaar hierdie tyd met ’n nuwe leefstyl begin. Waar sou jy nou wees? Dus, begin NOU, sodat jy volgende jaar is waar jy nou kon wees.
Ag, ek is ’n sucker vir sulke cliché sê-goed. Dit is soos persentjies vir my psige! En so is ek toe gym toe met min petrol én ’n geskeurde broek. Gevolglik was ek heeltemal onbewus van die hoë tempo musiek wat oor die speakers blêr, aangesien my kop aan niks anders kon dink nie as: “Daar’s ’n apie op ’n stokkie voor my ma se agterdeur. Daar’s ’n gaatjie in sy broekie en sy stertjie loer daardeur.” Tyd vir nuwe oefenklere, Champ! Ek het darem net 2 keer flougeraak. SUKSES!
Dit is dit van my kant af. Mag jou 1ste April gevul wees met grappies en skerp idees en mag jy niks minders as 4 keer self geflous word nie! En kom ons almal hoop die petrolprys is ook net een groot April fool’s joke…
Groete,
L.
N.S. Graag dedicate ek vandag se inskrywing op aan my grootste held en steunpilaar. Ek mis vandag hoe jy my kon vermaak met liedjies soos “Rietdak huis”, “Almal dra ‘n jas” en “Daars’ ‘n apie op ‘n stokkie”. Ek sal altyd daai dogtertjie bly. Lief vir jou, Mamma.
Vandag was weer een van daai dae wat deesdae lei tot ‘n mobile upload van ‘n enkele glas wyn met die onderskrif “Wat ‘n dag!”. En wat jy dan sommer self gaan “like”. Een van daai dae wat jy by die huis instap en jou baadjie, kossakkie en sleutels alles netso binne-in (bo-op) die sleutelbak neersit. Daai dae wanneer jy wens dat jy eerder vanoggend daai baie ongemaklike, baie hoë stilettos aangetrek het, sodat jy tenminste vanaand wanneer jy hulle uittrek iets kan hê wat jou dag ophelder. Vir die van julle wat nog lees, ek het BITTER min sulke dae, so maak vas jou seat belt. Hierdie bruid wil vent!
Daar is min dinge wat my so opwen soos om troureëlings te begin tref met iemand wat dan ewe skielik, net voor alles gefinaliseer is, soos die graf swyg! Alles beweeg mooi tot op ‘n sekere punt (gewoonlik die “so, hoeveel gaan dit ons kos?” punt). Dan wag jy. En jy wag. En jy wag nog totdat jy uiteindelik die moed bymekaar skraap om daardie ongemaklike epos/sms te stuur: “Ag, ek is SO jammer as ek ‘n oorlas van myself maak, maar ek wil net weet of jy DALK my vorige 7 e-posse/smsse gekry het. Sien, ek het onlangs ‘n ander rekenaar/selfoon gekry en ek is nie seker of ek net MISKIEN jou terugvoer gemis het nie. #flikker ogies” Dit is frustrerend! Kyk, ek is ‘n check list-meisie. As iets in die lug hang, of nie afge-tick kan word nie dan, wel, RAAK EK AFGETICK! (Dominee … ek wil nie wéér ‘n e-pos stuur nie!)
En dit bring my by die tweede Goliat van die dag. Ek was in die middel van die baie lang proses waar ek my dagtake vir die volgende paar weke sorgvuldig in orde te kry, toe my bestuurder skielik die kantoor se ligte afsit en ek bitter vinnig moes opspring om nie toegesluit te word nie. Haastig klik ek op “close” en toe die rekenaar ewe beleef vir my vra of ek al my werk wat ek tot dusver gedoen het, wil stoor, toe click ek “nee”. NEE! Die Moet-Alles-Afhandel-Voor-Ek-Huis-Toe-Gaan-Anders-Kan-Ek-Nie-Slaap-Nie-kant van my het so emosioneel geraak toe ek by die kantoor uitstap. Dit het gevoel asof ek ‘n gedeelte van my brein op my lessenaar agtergelaat het. Deurmekaar, onvolledig en gedisoriënteerd stap ek toe maar na my kar waar ek tot die besef kom– ek moet vanaand gaan weeg en meet. Goliat nommer 3.
Hou asseblief ingedagte dat hierdie pligsgetroue (amper) bruid min of meer 2 maande laas kliphard geoefen het. Ja goed, ek was hier en daar week-aan, week-af in die gym. Okei, so die oefen-gedeelte was nie so vreeslik afgeskeep nie, maar ek het geëet soos iemand met geen beginsels nie! Ek sal weer my mond van vooraf moet bekeer! Baie dapper stap ek toe by my gym in. Daar was gelukkig net een ander vrou wat die tranedal wat sou volg, moes aankou. “Arms op,” bevel my trainer. “grootste gedeelte van die bors”. Great! Goeie dag om ‘n padded bra te dra! (sarkasties) Miskien kan ek haar vra om so 2cm af te trek om daardie area? Nee, kom ons los eerder.
5 minute later is die resultate in. Ná 2 maande se sondige eetgewoontes is ek wraggies 200g ligter en elkeen van my ledemate het ‘n millimeter of 2 verloor. Padded bra en al! Dit is toe afterall nie nodig vir ongemaklike stilettos nie. Gelukkies vang jou sommerso daar waar jy dit nie verwag nie. Nadat ek gou my naam opgesit het vir ‘n maand se Boot Camp, is ek daar weg. Nou? Aandete.
Waarvoor is ek lus? Siende dat ek pas klaar geweeg het en eers weer oor 4 weke (en ná boot camp) hoef te weeg is dieet-kos vanaand van die tafel af (verskoon die cliché). En voor julle oordeel, ek weet ek is nie die enigste een wat hierdie redenasie volg ná Weeg-dag nie. Ek is rustig deur al wat ‘n rak is en het al my gunstellinge oorweeg – sushi, gevulde hoender, macaroni en kaas, take aways. Die wêreld was my oester. Vanaand eet ek NET waarvoor ek lus is.
Ek het betaal en op die ou einde huis toe gery in ‘n baie beter bui as waarmee ek by die kantoor uit is. Want binnekort gaan ek heerlik lê en cuddle met my pragtige babahond terwyl ek my gunsteling-televisiereeks kyk en gaan smul aan my cheat-aandete.
Een ding is seker- Grootmens-wees is nie altyd maklik nie. Maar, then again, as jy ‘n grootmens is, kan niemand jou keer wanneer jy vir aandete Marmite-broodjies en pienk Nesquick wil maak nie.
Mooi bly,
L.
Nou ja. Hier sit ek al heel week en wonder hoe op dees aarde ek dit gaan regkry om sommerso met die intrapslag ‘n indruk te maak. Mense glo mos jy kry nie ‘n tweede kans om ‘n eerste indruk te skep nie. Bygesê, mense het ook gesê die aarde is plat, so wat weet hulle.
Laat ek myself voorstel. Ek is pas verloof (dankie, dankie) sedert Augustus 2014. (In “verloof – wêreld” kwalifiseer 8 maande nog as “pas”.) Ek kom van ‘n bitter klein dorpie waarvan die naam nie die Atlas gemaak het nie en ek het NOOIT gedink ek sal eendag voor die kansel staan nie. Maar hier is ons nou. 28 jaar in die lewe in en so gelukkig soos nog nooit vantevore. Alles het skielik in plek geval. Behalwe een ding. En daarom besluit ek toe so met die verloof-raak om vir die duisendste eerste keer die paadjie na “’n maerder ek” aan te pak. As daar ooit ‘n goeie tyd was, is dit nou. Ewe getrou het ek na al wat ‘n vrugtemark is gegaan en ons huisie volgestop met alles wat laag is in kilojoules en hoog is in watookal dit is wat mens vol hou. Ek het die dik stoflaag van die oefen DVDs afgeskraap en by ‘n gym gaan aansluit. Ek het daardie dag ‘n belofte gemaak aan Die Rok, en Die Rok sal my nooit vergewe as ek haar laat sleg lyk nie.
Ek is oor die algemeen ‘n baie swak verloorder en om verantwoording te moet doen vir my dade is vir my die beste vorm van motivering. Gooi ‘n high five en ‘n paar goue sterretjies in en ek raak die gretigste stukkie mens wat jy nog ooit teëgekom het. Ek voel bevoorreg om nou ‘n platvorm te kan hê waar ek kan bieg en kan brag en waar ek ondersteuning kan kry en advies kan vra. Ek sien vreeslik uit daarna om my frustrasies en oorwinnings met julle te deel – nie net rakende my gewigsverlies nie, maar ook met betrekking tot elke fasset van trouereël. Ek is ALTYD voorbereid is vir ALLES, maar het vinnig tot die slotsom gekom dat NIEMAND hulself ooit kan voorberei vir die tyd wat lê tussen die oomblik wanneer Die Ring aan jou vinger gesteek word, tot die dag wat jy jou ewige trou beloof nie. Maar ek kan wel sê dat dit nooit, ooit vervelig is nie. En daarna kom ma-wees. Van wat ek verneem is ek nog by die “maklike” deel.
Ek was nou die dag by een van die baie gesogte bruidswinkels in die Kaap om die Oorweldigende Soektog na Die Rok te begin. Ek was op die punt om handoek in te gooi. Ná 3 mislukte pogings by verskeie ander winkels om ‘n rok te vind wat die “voller” figuur pas, kan julle my ekstase indink toe ek my styl aan die (dierbare) assistent beskryf en sy daarop vir my sê: “Sekerlik. Ek is nou terug met die eerste 7 rokke.” Ek moes myself keer of ek het HAAR gevra om met my te trou!
Terwyl ek wag het ek vinnig agtergekom dat daar ‘n sekere “kode” is waarmee bruide mekaar in so ‘n omgewing benader. Ons groet blykbaar nie mekaar nie. Orals sien jy geforseerde glimlaggies en oë wat angstig deur die rakke “blaai”– net té bang iemand gaps JOU rok voor jy dit raaksien. En wanneer ‘n bruid wel haar oë in jou rigting draai, beweeg dit outomaties na een plek – Die Ring. In so ‘n omgewing veroordeel meisies nie mekaar se figure of kleresmaak of kapsels nie. Die enigste kompetisie in ‘n bruidswinkel is Die Ring. En dit word beoordeel met Die Kyk. Dames, julle weet waarvan ek praat. Daai kyk wat jy vir jou eks se nuwe aanhangsel gee wanneer julle verby mekaar loop. Ek was skielik baie selfbewus oor my hande en het my toe maar spoedig na die eerste aanpas kamer gehaas vir die Groot Aanpas, terwyl ek paniekerig wonder of dit moontlik is om “muffin top” op jou ringvinger te kry?
Groete,
L.